SuperSarel maak nog ’n groot skuif
2011-07-01 23:56
BLOEMFONTEIN
’n Dag nadat dit amptelik bevestig is dat Sarel Pretorius ’n Super Rugby-kontrak met die Waratahs van Australië gesluit het, kan Sport24 bekend maak dat hy ’n verdere belangrike loopbaanskuif gemaak het.
Dié 27-jarige skrumskakel sal vanjaar die laaste keer vir Griekwas in die Curriebeker-reeks speel voordat die Vrystaat-stadion van 2012 af sy tuisveld in dié reeks word.
“Sarel se skuif na die Waratahs is ’n bitter groot terugslag vir die Cheetahs. Hy het ’n baie groot rol gespeel in ons aanvalsplanne en ons gaan hom mis in Super Rugby,” sê Naka Drotské, afrigter van die Cheetahs.
“Die positiewe is dat Sarel ’n kontrak van twee jaar met die Vrystaat gesluit het om van volgende jaar af vir ons Curriebeker-rugby te speel.”
Dié besluit deur Pretorius is ’n terugslag vir die Poubloues wat onlangs goedkeuring aan die deurwinterde Naas Olivier gegee het om sy loopbaan in Italië voort te sit. Olivier sal nie vanjaar Curriebeker-rugby speel nie.
Griekwas het wel nog die Blitsbok Jandré Blom, ’n skrumskakel wat opgewasse vir Premierliga-rugby is. Warren Malgas sal ook geen span in die steek laat nie.
Die Poubloues het genoeg diepte op losskakel, met Earl Rose wat tans nog deel van die Stormers is. Rudi Vogt is ’n ewe bedrewe nr. 10.
Oor sy skuif na die Waratahs sê Pretorius dit was ’n opwindende geleentheid wat hy eenvoudig nie kon weier nie.
“Wanneer jy Super Rugby speel, reis jy wêreldwyd en my laaste twee besoeke aan Sydney was werklik ’n aangename ervaring.”
Pretorius is tans in Zanzibar, maar verwag geen vakansie wanneer hy hom ná die Curriebeker-reeks by die Waratahs aansluit nie.
“Ek het vanjaar my beste Superrugby-seisoen tot nog toe beleef, maar glo dat ek steeds as ’n speler kan ontwikkel. Ek hoop om my spel verder in Sydney te verbeter. Dit gaan uiters opwindend wees om saam met spelers soos Berrick Barnes, Drew Mitchell, Adam Ashley-Cooper en ander Wallabies in die groep te speel. Ek weet ek moet nog ’n aantal maande wag, maar brand om my in Sydney aan te sluit.”
Dit is nog onseker met wie Drotské hom (Pretorius) in sy Super-span gaan vervang. Pretorius was vanjaar loshande die mees aanvallende skrumskakel in die reeks. Hy het 9 drieë gedruk, maar dit is sy bydrae in die ander 35 drieë van die Cheetahs wat nie onderskat mag word nie