Gee SA 6de span in reeks
2012-05-13 20:52
DURBAN. – Suid-Afrika het genoeg goeie rugbyspelers om ’n sesde franchise in die Super-reeks te regverdig.
Nee, dit is nie een of ander desperate Lions-beampte wat dít kwytraak nie, maar niemand minder nie as ’n Aussie.
Phil Blake, die verdedigingsafrigter van die Western Force, het Saterdagaand hier op Kingspark nadat sy span met 53-11 deur die Sharks verslind is, erken die Super-reeks sal niks armer wees as ’n sesde Suid-Afrikaanse span toegelaat sou word nie.
Hy het selfs toegegee dat daar dalk meriete daarin kan wees om twee van die Aussie-franchises te laat saamsmelt om aan Suid-Afrika nog ’n span te gee.
“Dit is nou nie ’n besluit waarop ek enige invloed sal hê nie, maar Suid-Afrika is ’n rugbykrag wat met gemak ’n sesde span kan hê in hierdie reeks.
“Dit sal dalk nie so maklik wees om twee van die Aussie-spanne (moontlik Rebels en Western Force) saam te gooi nie, maar dis iets om te oorweeg,” het hy gesê.
Dié twee is die onderste twee Australiese spanne, hoewel die Rebels Saterdag ’n opskudding veroorsaak het deur die Crusaders te klop.
Nieu-Seelandse en Australiese rugbybase wou nog nie byt aan die gedagte van ’n sesde Suid-Afrikaanse span nie.
.Oor die Sharks se kans op Super-rugbyglorie is Blake nie baie positief nie.
“Ek glo hulle sal sukkel om die twee spanne bo hulle (Stormers en Bulls) in te haal, maar kan op huidige spelpeil dalk inglip as die vyfde of sesde span in die uitspeelstryde,” sê hy.
Hierdie was die Sharks se laaste wedstryd teen ’n oorsese span en hulle het nou vyf derby-wedstryde oor.
“Dit gaan ’n geweldige uitdaging wees en baie van ons verg,” erken John Plumtree, die Sharks-afrigter.
Hulle speel Saterdag in Bloemfontein teen die Cheetahs en die week daarna weer hier tuis teen die Stormers, voordat die Lions in Johannesburg gepak word en hulle afsluit met twee tuiswedstryde teen die Bulls en die Cheetahs.
Plumtree het ook gesê al is die Springbok-losvoorspeler Willem Alberts nie nou deel van die 22-tal nie, is dié stormram steeds in sy toekomsplanne.
- Die Burger