Kaapse rooi gevaar
2012-03-28 00:00
Steven Kitshoff se alma mater, die Paul Roos Gimnasium, het al 49 Springbok-rugbyspelers opgelewer. Hy is nog baie jonk, maar sal straks Bok nr.50 word. Foto: Yunus Mohamed
KAAPSTAD. – Die Stormers se voorry het ’n paar belangrike toetse geslaag, maar Saterdag is dit eksamentyd teen die Bulls op Nuweland.
Hul skrumresep in drie Super-rugbywedstryde vanjaar was dodelik doeltreffend en het ’n yslike rol in die seges oor die Hurricanes, Sharks en Blues gespeel.
Steven Kitshoff, Tiaan Liebenberg en Brok Harris begin, met Frans Malherbe wat in die tweede helfte van die plaasvervangersbank opdraf om die teenstanders sat te maak nadat vir 60 of wat minute saggemaak is.
Dit gons reeds oor Kitshoff as ’n moontlike Springbok, maar die 20-jarige rooikop speel ’n blokhou as dít ter sprake kom. ’n Mens praat nie hardop oor sulke dinge terwyl die Bok-breier, Heyneke Meyer, die keuse het om Gurthrö Steenkamp, Tendai Mtawarira, Dean Greyling én JC Janse van Rensburg in te span nie.
“Om eendag vir die Bokke te speel, is iets wat my dryf. Daar is egter nog baie harde werk wat voorlê om eendag daar uit te kom,” het Kitshoff in ’n onderhoud met vergunning van die Union Sports Group gesê.
Hy kry Saterdag waarskynlik die kans om teen die Bok-vaskopstut Werner Kruger te sak.
Kruger behoort saam met Chiliboy Ralepelle en Greyling in die Bulls se voorry te wees.
Kitshoff se teenstanders het tot dusver swaar geleef, maar hy wys daarop dat ’n skrum oor die poging van agt manne gaan en nie bloot ’n sterk loskopstut nie.
Dis inderdaad om ’n kern indrukwekkende senior spelers – Tiaan Liebenberg, Harris, Andries Bekker en Duane Vermeulen – dat puik juniors soos Kitshoff, Eben Etzebeth, Siya Kolisi en Malherbe ondersteuners aan die praat kry.
“Ek leer elke dag iets nuuts by Tiaan.
Hy het daardie motivering om in elke wedstryd end-uit deur te druk. Ek geniet dit baie om langs hom te skrum.”
Harris verdien ook agting wat hom dikwels nie toekom nie. Hy is tegnies ’n goeie skrumwerker. Malherbe se krag word net méér gevoel, omdat hy ’n saggemaakte stukkie bief vir brekfis kan eet.
Dit is ook nie toevallig dat Kitshoff junior só vroeg op dié vlak kan meeding nie. Benewens sy studie van kragmanne soos Os du Randt en Andrew Sheridan vroeër in sy jeug, is hy met ’n toegewyde pa in Steven senior geseën.
“My pa was ’n baie groot invloed. Ons het baie rugbyvelde toe gegaan en fiksheidsoefeninge saam gedoen.”
Kitshoff het verlede jaar as 19-jarige sy buiging vir die Stormers, teen die Chiefs, gemaak.
Hy het toe vyf keer van die plaasvervangersbank gespeel voordat sy honger om te begin dié seisoen gestil is. Hy het verlede maand nog sy 20ste verjaardag gevier.
“Ek geniet elke oomblik. As ek op só ’n jong ouderdom vir die Stormers begin speel, behoort daar vorentoe net meer kanse te wees. Ek sien baie uit na die toekoms.”
Dat die onmiddellike toekoms ’n reuse-uitdaging bied, is só. Dis die Stormers teen die Bulls. Daar is niks groter voordat ’n man by toetsvlak uitkom nie.
- Die Burger