SA kry kitsrugby
2010-06-20 08:05
Druk artikel e-pos artikel
Verwante skakels
Beserings knou Indiese krieketspan
Indiese kaptein vir twee wedstryde geskors
2010-stadions byna gereed
Rudolph Lake
Johannesburg - Suid-Afrikaanse rugby staan op die drumpel van ’n reuse-verandering met die geboorte van ’n nuwe internasionale kompetisie op plaaslike bodem.
Dié kompetisie sal in Januarie 2012 begin en sal gegrond wees op die suksesvolle Indiese Premierliga (IPL)-krieketskouspel.
Rugbyliefhebbers sal meer as 200 van die wêreld se voorste rugbyspelers sien kragte meet in Kaapstad en Durban in dié twee stede se nuwe Wêreldbeker-sokkerstadions.
Bok-sterre soos John Smit, Victor Matfield, Bryan Habana, Schalk Burger, Jean de Villiers, Juan Smith, Jaque Fourie, Heinrich Brüssow en Bismarck du Plessis, asook All Black-staatmakers soos Richie McCaw en Daniel Carter, die Aussie-yster Phil Waugh en die Wallaby-spelskepper James O’Connor is volgens betroubare bronne van dié uitsoekspelers.
Hulle sal oor nagenoeg drie weke in die beoogde rugbyskouspel speel en daardeur miljoene rande verdien.
Tientalle sterre van Engeland, Frankryk en Argentinië sal ook deelneem.
Die geld wat spelers in die nuwe kompetisie kan verdien kan moontlik meer beloop as die totale waarde van hul huidige jaarlikse kontrakte by hul onderskeie unies en spanne regoor die wêreld.
Die gewese Springbok-flank Rassie Erasmus en die Kaapse prokureur Frikkie Erasmus is deel van die konsortium wat die nuwe kitsrugby-kompetisie sal bestuur.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het reeds die kompetisie bespreek en dit in beginsel goedgekeur. Hoë amptenare van Saru is van mening dat die kompetisie nuwe lewe in die spel kan blaas.
Die ontwikkeling van die spel sal plaaslike rugby geldelik bevoordeel deurdat ’n gedeelte van die inkomste uit die kompetisie aan Saru en rugby-provinsies geskenk sal word om rugby te bevorder.
Die formaat en reëls van die nuwe kompetisie, wat straks as die International Super Rugby-reeks bekend sal staan, is tans ’n groot geheim.
Tog kan Sport24 onthul dat die planne vir die kompetisie vir agt verskillende spanne voorsiening maak wat op ’n rondomtalie-grondslag teen mekaar sal meeding.
Die topvier-spanne sal in twee halfeindstryde kragte meet, met die wenners wat in ’n eindstryd om groot prysgeld sal meeding.
Geskoei op krieket se IPL-reeks sal ’n wedstryd uit twee helftes van 20 minute elk bestaan.
Al agt spanne sal op dieselfde dag op dieselfde veld agtereenvolgens in verskillende kragmetings in aksie wees.
Die deelnemende spanne sal as franchises aan sakelui verkoop word. Dié eienaars sal hul spanne saamstel uit die beskikbare kandidate wat op ’n veiling aan die hoogste bod verkoop sal word.
Dít sal dan ’n mengsel van nasionaliteite meebring – Kiwi, Bok en Aussie kan byvoorbeeld dan in één span teen hul landgenoot-sterre in die ander spanne meeding.
Om te verseker dat toeskouers aan vinnige en skouspelagtige aksie blootgestel word, sal enkele van die Internasionale Rugbyraad (IRR) se rugbyreëls gewysig word.
Die doelwit is om die spel vinniger te maak en onderbrekings en vertragings tot die absolute minimum te beperk.
Al die reëlveranderings is nog nie afgehandel nie, maar volgens inligting sal daar sekere beperkings op die skop van die bal geplaas word.
Reëls rondom probleemareas soos die afbreekpunte en skrums sal na verwagting ook aangepas word om die vloei van die spel vinnig te hou.
Die uitsaairegte van die nuwe kompetisie is nog nie verkoop nie, maar internasionale en Suid-Afrikaanse TV-maatskappye is gretig om dit op te raap.