Westelike Provinsie staan begaafde jong senter aan Bulle af
2011-07-09 00:00
Artikelopsies
Druk artikel e-pos artikel Deel
Yahoo Google Digg del.icio.us Facebook Twitter Kry Die Burger op
Jou selfoon Jou Facebook-profiel STEPHEN NELL
KAAPSTAD - Die Westelike Provinsie het die nuus verwag, maar dit het steeds seergemaak om gister te hoor dat die puik jong senter Johann Sadie ’n kontrak met die Blou Bulle gesluit het.
Rassie Erasmus, direkteur van afrigting by die WP, het Sadie se besluit om ná dié seisoen na Pretoria te verhuis as ’n “groot verlies” beskryf.
“Ons kon nie aan dieselfde vereistes voldoen nie. Johann is ’n skitterende speler en gaan seker nog by ons spook,” het Erasmus gesê.
Die goeie nuus is egter dat die WP al sy ander top-jongelinge in die Kaap kon hou.
Rob Wagner, besturende direkteur van WP Rugby (Edms.) Bpk., het gistermiddag bevestig dat puik juniors soos Steven Kitshoff, Siyabonga Ntubeni, Frans Malherbe, Rynhardt Elstadt, Eben Etzebeth, Nizaam Carr, Siya Kolisi, Louis Schreuder, Gary van Aswegen en Danie Poolman almal volgende seisoen vir die WP sal speel.
Dit blyk dat die WP nie bereid was om ’n buitensporige aanbod vir Sadie te maak nie.
“Ek kan nie vir enige speler waarborg dat hy die eerstekeuse-buitesenter gaan wees of hom drie keer meer as ander spelers in sy kontrakgroep aanbied nie,” het Erasmus gesê.
“Dis hartseer ... ons het hom ’n gesonde kontrak aangebied. Ek wens hom alle sterkte toe.”
Die WP sou vir Sadie aansienlik meer as sy eweknieë moes betaal om hom in die Kaap te hou.
“Daar is salarisvlakke en ons wil nie soos in 2008 weer verdeeldheid in die groep hê omdat een speler buitensporig meer as ’n ander betaal word nie,” het Erasmus gesê.
Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het gister ook aangekondig dat hulle die WP-blits JJ Engelbrecht gewerf het. Sowel hy as Sadie sal op 1 November by die Bulle aanmeld en is tot 31 Oktober 2013 gekontrakteer.
Engelbrecht is vanjaar deur die Stormers oor die hoof gesien, maar Erasmus het sy talent ook geloof.
“JJ het baie talent en is ’n ou wat nog sy beste spelpeil moet bereik,” het Erasmus gesê.
Ofskoon Sadie ’n gevoelige verlies is, is die verwagting dat die WP aanstaande jaar nog vir Jean de Villiers, Jaque Fourie en Juan de Jongh in sy geledere sal hê. Sadie sou dus met daardie Bokke om ’n plek in die beginspan moes meeding.
“Ek het my tyd by die WP baie geniet en dit was ’n baie moeilike besluit, want ek is maar ’n lojale ou. Die Bulls bied my egter ’n groot geleentheid en dit is iets wat ek wil aangryp,” het Sadie aan die Bulls se webtuiste gesê.
Barend van Graan, uitvoerende hoof van die BBM, was in sy noppies met sy aanwinste.
“Ons het ’n visie om die wêreldleier in rugby te wees en spelers soos Johann en JJ kan ’n groot bydrae maak om daardie doelwitte te bereik,” het Van Graan gesê.
- Die Burger